Farr vat Fas vas

Deur Leon Bonthuys Saterdag, Augustus 24, 2019 21:15, Die Son

AS SWANGER ma’s met ’n drankprobleem sit en hulle soek hulp, moet hulle na ’n plek kan gaan waar hulle veilig voel en meegevoel kry.

Jaco Louw, ’n navorser van die Stigting vir Alkoholverwante Navorsing (Farr), het gister by die Kaapstadse Internasionale Konferensiesentrum oor die stigma gepraat wat kleef aan mense wat aan dié sindroom ly.

Talle kinders word gebore met fetale alkoholsindroom (Fas) omdat die ma tydens haar swangerskap drink.

“Die vinger word altyd na die vroue gewys. Die partner en gemeenskap het egter ook ’n rol om te speel.
“Ons moet dié vroue bemagtig om op te hou drink.

Gevare

Dalk ly hulle aan alkoholisme, wat ’n siekte is.

“Wanneer iemand bemagtig word, is dit vir hulle makliker om op te hou drink. Dis dalk bloot ’n geval van ’n gebrek aan kennis van die gevare wat kan voorkom as jy drink en verwag.”

Louw sê die skuld word op die vroue afgepak en hulle voel alleen.

“Jy help nie mense met skoktaktiek nie. Ons by die Farr maak gebruik van deernis as taktiek. Dit lyk asof ’n mens se brein afskakel wanneer daai persoon bang gemaak word. Mense is geneig om ander te diagnoseer dat hulle aan Fas ly. Ons moet ophou om mense te diagnoseer en vinger te wys. Ons moet meer simpatie en meegevoel hê. Dis hoe ons dié vroue kan help.”

Louw sê die siekte kan voorkom word.

Dr. Leana Olivier, CEO van die Farr, sê daar wag nog baie werk, maar hulle behaal sukses.

“In De Aar is ons al 18 jaar aan die werk en die Fas-syfers het gedaal. Dit blyk dat hoe langer ’n projek op ’n plek aan die gang is, hoe meer verbeter die gesondheidstoestand.”